Die Huwelik (#3244)

*,Die Bahá'í huwelik is verbintenis en hartlike toegeneentheid tussen die twee persone. Hulle moet egter die uiterste sorg uitoefen en kennis maak met mekaar se karakter. Hierdie ewige band behoort verstewig te word deur 'n ferm verbond, en die voorneme behoort te wees om eendrag, gemeenskapsgevoel en eengesindheid te bevorder, en om, die ewige lewe te verkry.' - 'Abdu'l-Bahá'

*Die belofte van die huwelik, die vers wat afsonderlik deur die bruid en bruidegom gesê moet word in die teenwoordigheid van ten minste twee getuies aanvaardbaar vir die Geestelike Raad, is, soos in die Kitáb-i-Aqdas (Die Allerheiligste Boek) bepaal: ,Ons sal almal, voorwaar, by die Wil van God bly.'

 

Hy is die Vrygewige, die Almildelike!

Lof sy aan God, Aloue, die Immer-Blywende, die Onveranderlike, die Ewige! Hy Wat in Sy eie Wese getuig het dat Hy voorwaar die Een is, die Enkele, die Onbelemmerde, die Verhewe. Ons getuig dat daar voorwaar geen God behalwe Hom is nie, erken Sy eenheid, bely Sy enkelvoudigheid. Hy het nog altyd in ontoeganklike hoogtes gewoon, in die kruine van Sy verhewenheid, geheilig van die melding van alles behalwe Hom, vry van die beskrywing van alles buiten Hom.

En toe Hy begeer het om genade en heilsaamheid aan die mense te openbaar, en om die wêreld reg te stel, het Hy voorskrifte bekend gemaak en wette geskape; daaronder het Hy die wet van die huwelik ingestel, dit soos 'n vesting gemaak vir welsyn en verlossing, en dit ons gelas in dit wat uit die hemel van heiligheid in Sy Allerheiligste Boek op ons laat daal is. Hy sê, groot is Sy heerlikheid: ,Trou, o mense, dat uit julle hy mag voortkom wat My onder My dienaars sal onthou; dit is een van My gebooie aan julle; gehoorsaam dit tot steun vir julleself.'

-Bahá'u'lláh
-----------------------

Die Huwelik (#3245)

Hy is God! O weergalose Here! In U almagtige wysheid het U die huwelik aan die volke voorgeskrywe, dat die geslagte van mense op mekaar mag volg in hierdie verganklike wêreld, en dat hulle altyd, solank die wêreld sal voortduur, hulle op die drumpel van U eenheid met diensbaarheid en aanbidding, met begroeting, verering en lof sal besig hou. ,Ek het nie geeste en mense geskape, behalwe dat hulle my behoort te aanbid nie.'1 Trou U dus in die hemel van U genade hierdie twee voëls van die nes van U liefde, en maak hulle die middel om ewigdurende genade aan te trek; sodat uit die verbinding van hierdie twee seë van liefde daar 'n golf van teerhartigheid mag golf en die pêrels van 'n suiwer en fraai kroos op doe oewer van die lewe mag afwerp. ,Hy het die twee seë losgelaat, sodat hulle mekaar ontmoet: Tussen hulle is 'n versperring waaroor hulle nie gaan nie. Watter van julle Here se mildhede sal julle dan ontken? Van elkeen bring Hy groter en kleiner pêrels voort.'

O U Vriendelike Here! Maak dat hierdie huwelik koraal en pêrels voortbring. U is voorwaar die Almagtige, die Allergrootste, die Altyd-Vergewende!

-`Abdu'l-Bahá
-----------------------

